Robbie, Leah, André, Bianca, Willem en kie stel inspirerende musiekvideo vry

Robbie, Leah, André, Bianca, Willem en kie stel inspirerende musiekvideo vry

Dié musiekvideo, waarin From Now On vanuit die bekroonde film, The Greatest Showman, vertolk word, is in isolasie opgeneem en verwerk - kyk dit hieronder.

cover co pro
Verskaf.

 ’n Inspirerende musiekvideo wat pas deur CO Productions vrygestel is, sal aanhangers inspireer en ’n nuwe lied in hul plant terwyl die donker wolk van COVID-19 oor die wêreld hang. 

LEES OOK: Kyk Elandré se musiekvideo vir 'In Hierdie Ding'

 Topkunstenaars soos Robbie Wessels, Leah, André Schwartz, Willem Botha, die geliefde Binnelanders-akteur, Reynardt Hugo, Lee Scott, Bianca Le Grange en David Johnson van Getroud met Rugby-faam, het saamgespan en elkeen vertolk dele vanuit dié liedjie wat op menigte musiekliefhebbers al ’n positiewe impak gehad het. 

 “Dit was omtrent ’n uitdaging om dié video op te neem want ’n mens is so gewoond aan jou mede-kunstenaars saam met jou in die ateljee of op die verhoog,” het Robbie Wessels vertel. 

Volgens hom leer ons almal op dié stadium iets van onsself en hy hoop almal kry die kans - al is die omstandighede moeilik - om iets verrykends te doen sodat hierdie tydperk ook iets positiefs aan almal opgelewer het.. 

“Hierdie liedjie is een van my gunstelinge en die boodskappe wat jy daaruit kan neem is so belangrik,” het Willem Botha gesê. 

“In hierdie tyd is die Here ons Rots en Hy moet ons Steunpilaar bly. Almal se uitdagings gedurende dié tyd verskil en ons moet dit respekteer en bly bid,” het hy gesê. 


Geïnspireerd, bemagtig en gemotiveerd.

Vir hom was die hele proses van dié musiekvideo spesiaal omdat - alhoewel dit alleen gedurende isolasie opgeneem is - dit hom deel van ’n eenheid laat voel het. 

Willem het ook die musiekvideo geredigeer en só ook nog ’n talent ontwikkel. 

Leah het vertel dat From Now On haar persoonlik ook inspireer en dat sy dié liedjie so goed ken dat sy sommer saam met almal aan hul gedeeltes wou sing! 

“Vrees is van die duiwel, so kom ons vrees nie COVID-19 of die toekoms nie. Maak jou leuse: From Now On we will not let fear overcome us,” het sy gesê. 

“Die belangrikste gedurende dié tye is om soveel as moontlik te doen wat jou gelukkig maak. Ek hou van sing en veral saam maatjies! Ek hoop almal geniet die video,” het André Schwartz gesê. 

Vir Lee Scott is daar vir elkeen ’n boodskap in hierdie liedjie - wat persoonlik ook een van sy gunstelinge is. “As ek moet beskryf hoe ek gevoel het toe ek my gedeeltes opgeneem het, kan ek drie woorde gebruik: geïnspireerd, bemagtig en gemotiveerd,” het hy gesê. 

COVID-19 het die vermaaklikheidsbedryf reeds voor inperking gekelder met die verbod op meer as 100 mense by ’n sosiale byeenkoms en verskeie kunstenaars het hul na aanlynvertonings gewend om met aanhangers in kontak te bly en ’n inkomste op te maak. 

Show's Stories