Simoné Roets en Joshua Na Die Reën span kragte saam in treffende enkelsnit

Simoné Roets en Joshua Na Die Reën span kragte saam in treffende enkelsnit

Na die vrystelling van haar eerste Afrikaanse enkelsnit en musiekvideo, 'Dans In Die Donker', het die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Simoné Roets, sommer diep in die harte van plaaslike gehore gekruip.

simone roets

Daarom is sy baie opgewonde om haar nuwe liedjie, 'Ongerep', met luisteraars te deel. Nie net het Jattie de Beer van Artistry Productions hom skitterend van sy taak gekwyt het met die vervaardiging van die snit nie, maar sy het ook die voorreg gehad om saam met Joshua Na Die Reën (Jacques de Villiers) hieraan te werk.

“Ek vereenselwig met Jacques, as mens en kunstenaar, en wou baie graag saam met hom werk. Hy het Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting kom stuur en inspireer my om meer in my moedertaal musiek te skryf,” verduidelik sy. “Hy het darem dadelik ingestem om saam met my die liedjie te sing, nadat ek vir hom die demo gestuur het.”

Hierdie kontemporêre popsnit, uit haar eie pen, gaan oor hoe kwesbaar die mens eintlik is. “'Ongerep' is iets wat onaangeraak is en in die konteks van hierdie liedjie verwys dit na iemand in sy/ haar rou vorm - voor die wêreld se verwagtinge en jou omstandighede kom vorm het wie jy is. Die liedjie is ’n uitdaging om terug te kom by daai rou vorm, want dit is waar die mooi lê in elkeen van ons,” deel sy oor die betekenis agter die liedjie.

Sy hoop dat luisteraars daarby sal aanklank vind en weer sal besef dat die mooi dikwels lê in ons gebrokenheid.

Vir die bekroonde musikant, Joshua Na Die Reën, wat bekend is vir sy sielvolle musiek was dit net so lekker om saam met Simoné (wat saam met sy vrou op skool was) te werk en hy erken dat hy dit graag in die toekoms weer sou wou doen.

“Ek het onmiddellik aanklank gevind by die liedjie en was dadelik beïndruk met die verfrissende effek wat sy het op die mense saam met wie sy werk. Sy is waarlik iemand om na op te kyk en ek is dankbaar vir die mooi vriendskap wat uit hierdie saamwerkgeleentheid kon groei,” sê hy.

Die musiekvideo van hierdie pragtige lied is deur Adi van der Walt en haar span van Faculty of Art verfilm in ’n vriend se huis in Capital Park.

Volgens Simoné, wat tans in Suid-Afrika is om haar musiek vry te stel, het Adi die boodskap van die liedjie perfek vasgevang en is sy baie opgewonde om die eindresultaat met bewonderaars te deel.

“Ongerep' gaan daaroor om eg te wees. Ons almal kort iemand wat ons herinner dat ons nie perfek hoef te wees nie. Iemand wat die mooi in ons sien en uitwys,” verduidelik sy. “Die video wys twee mense wat mekaar help om weer by die rou en egtheid van menswees uit te kom.”

Simoné het in Nelspruit groot geword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy ’n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en is sy ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane, Australië, waar sy tans woon.

'Ongerep' is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af: https://linktr.ee/simoneroets

Show's Stories