Nóg ‘n sepie met nóg meer sterre

Nóg ‘n sepie met nóg meer sterre

 ’n Tweede aanlyn blitssepie kom in Februarie 2020 na jou slimfoon of rekenaar.

blitsepie 2 netwerk24
Verskaf.

Die akteurpaartjie Diaan Lawrenson en Jody Abrahams is die vervaardigers van Op en af wat vanaf 3 Februarie op Netwerk24 uitgesaai sal word. 

LEES OOK: Sandra Prinsloo, Nico Panagio en Rolanda Marais eersdaags in nuwe Afrikaanse blitssepie

Dié komedie, geskryf deur Leon Kruger, sal intekenare ’n kykie gee op die lewe van drie paartjies wat in verskillende stadiums van hul huwelik staan. 

“Die sepie gaan oor doodgewone mense wat soms ’n bietjie eksentriek is en ’n spieël vir die leser is,” verduidelik Diaan. 

“Al die paartjies bly in een woonstelkompleks en is op die oog af vriende – tog sien ons ook later hul interaksies met mekaar is soms gelaai met wedywer, jaloesie en versier met ’n bietjie skinder.” 

Dié sepie is sterbelaai

Charlton George en Quanita Adams vertolk die rolle van André en Bev Mouton. Hulle is die paartjie wat die langste getroud is. Hulle lyk gelukkig, maar eintlik het Bev ’n geheime lewe waarvan André niks weet nie. 

Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens speel die paartjie Frans en Leande du Plessis. Leande is ’n ywerige aanlyn vlogger, terwyl Frans baie suksesvol met aandele speel. Maar het Leande net met Frans getrou vir sy geld? 

Die laaste paartjie is Charlie en Ilse Daniels, vertolk deur Marlo Minnaar en Nicole Fortuin. Hulle is onlangs getroud en nog baie verlief. Hulle besluit om swanger te raak, maar dit blyk makliker gesê as gedaan. 

 Boonop speel Diaan self in die sepie as Christelle van As, Bev se beste vriendin. 

Soos Netwerk24 se eerste aanlyn blitssepie Die Testament, sal elke episode van Op en Af ook vyf minute lank wees. ’n Nuwe episode sal elke weeksdag om 08:00 op Netwerk24 beskikbaar wees. Die sepie sal tot einde April 2020 duur. 

Die Testament het verwagtinge oortref


 “Die reaksie op ons eerste blitssepie, Die Testament, het ons verwagtinge oortref. Dis duidelik dat sulke blitskykgenot in Afrikaans ’n formaat is wat aanklank vind by Netwerk24 se gehoor,” sê Henriëtte Loubser, redakteur. 

“Terwyl Die Testament ’n dramatiese aanslag gehad het, is ons tweede sepie humoristies en bied dit dus ’n heel nuwe ervaring. Ons is weer eens in die veilige hande van Media24 se TV-kanaal, VIA, wat die sepie eksklusief vir uitsending op Netwerk24 vervaardig en sorg vir uitstekende gehalte.” 

 “Ons het elke week so lekker gekry as Leon Kruger se episodes in ons e-posmandjie land. En toe ons die eerste episodes kyk en die akteurs voel kompleet soos jou vriende op ’n Vrydagaand, toe raak ons regtig opgewonde,” sê Izelle Venter, kanaalhoof van VIA

Show's Stories