SARIE Voorbladgesig vier 10 jaar, PLUS nuwe opwindende wedstryd!

SARIE Voorbladgesig vier 10 jaar, PLUS nuwe opwindende wedstryd!

In hul 10de jaar het hulle ’n splinternuwe afdeling by die Voorbladgesig-wedstryd gevoeg: SARIE Nuwe Gesig!

SARIE Voorbladgesig
SARIE/Instagram: Leana Clunies-Ross

Die idee was eenvoudig: Lesers is gevra om in te skryf vir die kans om as wenner op een van SARIE se twaalf voorblaaie in die jaar te verskyn. Dit was meer as ’n dekade gelede en min het ons toe besef dat SARIE Voorbladgesig een van die grootste geleenthede in sy soort in die land sou word en een van die tydskrif se suksesvolste projekte.

Ná nege opwindende jare en meer as 60 000 inskrywings het ons lesers gewys hulle het al die eienskappe wat nodig is vir ’n inspirerende voorblad. Selfs ’n topverkoper!

LEES: Die Scenic Drive vier Vrouemaand: Michélle van Breda

Die gedagte was altyd om lesers hul oomblik in die kollig te gee. Om as glanstydskrif met gereelde celebrity-inhoud net vir ’n wyle die bordjies te verhang en ons lesers die sterre te maak – hulle ’n platform te gee om hul unieke stories te vertel en op SARIE se voorblad te verskyn.

Lesers het SARIE Voorbladgesig vanaf die eerste oomblik omarm en die wedstryd het sedertdien net bly groei. In 2019 was daar meer as 1 miljoen besoeke aan die webtuiste deur mense wat hulself of ander ingeskryf het asook diegene wat vir hul gunstelinge gestem het.

Wat is nuut?

In ons 10de jaar het ons ’n splinternuwe afdeling by ons Voorbladgesig-wedstryd gevoeg: SARIE Nuwe Gesig!

Vanjaar het ook leerders die kans om deel te wees van die opwinding van die tydskrif se jaarlikse Voorbladgesig-soektog. SARIE Nuwe Gesig is oop vir alle leerders van graad 10 tot 12 (16 tot 18 jaar oud). Maar verwag iets anders. Deelnemers wat op die mikroblad inskryf, word aangemoedig om #SARIEnuwegesig op Instagram, Facebook, Twitter of TikTok te gebruik as deel van hul inskrywing.

Dit sal SARIE die geleentheid gee om onmiddellik ’n verbintenis te vorm met die mens agter die foto’s, anders as met SARIE Voorbladgesig waar net drie foto’s volgens spesifieke riglyne deel is van die inskrywing. Ons wil graag ons jong deelnemers leer ken op die sosialemediaplatforms waar hulle daagliks bymekaarkom en gesels. Die beoordelaars sal hul besluit neem op grond van ’n omvattende blik van elkeen wat ingeskryf het.

Maar hier eindig die opwinding nie! Die Top-10 van SARIE Nuwe Gesig sal aanlyn aangekondig word, en die wenner sal op ’n unieke manier op die voorblad van SARIE se September-uitgawe verskyn.

SARIE Voorbladgesig

Nog ’n nuutjie vanjaar is die tydlyn vir SARIE Voorbladgesig. Die Top-40 sal aangekondig word in SARIE se September-uitgawe asook op SARIE.com, en hul tuisvideo’s sal gebruik word as een van die kriteria in ons keuses. 36 van die 40 semifinaliste sal deur die beoordelaars gekies word, terwyl die vier inskrywings met die meeste aanlyn stemme outomaties ’n plek sal kry.

Die Top-10 word deur ons beoordelaars gekies en word in die Oktober-uitgawe aangekondig. ’n Professionele fotograaf sal foto’s van die 10 finaliste neem wat in die November-uitgawe verskyn. Vir die eerste keer sal die groot prys die gesogte Desember-voorblad wees – die afsluiting van 2020 asook die 10de jaar van SARIE se gunstelingwedstryd op ’n hoogtepunt. ’n Ware viering van die tydskrif se kernboodskap vir 2020: #JyIsGenoeg. 

’"n Viering van ons 10de jaar en ’n kans om SARIE se boodskap vir 2020, #JyIsGenoeg, uit te leef. Ons boodskap is duidelik: Jy, die leser, is genoeg. Genoeg om op die voorblad te wees van SA se voorste glansvrouetydskrif – die tydskrif wat jy kies om te lees." Michélle van Breda, SARIE-redakteur

Inskrywings vir SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig het op 17 April geopen en sluit op 31 Mei om middernag.

Jy kan reeds vir jou gunstelinge stem en het kans tot 31 Mei om middernag om dit te doen.

Waar om in te skryf: voorbladgesig.sarie.com

Hutsmerke om te gebruik: #SARIEvoorbladgesig #SARIEnuwegesig

SARIE Voorbladgesig word geborg deur die Isa Carstens Akademie.

Show's Stories