Danny Smoke se eerste enkelsnit trek aandag!

Danny Smoke se eerste enkelsnit trek aandag!

Danny Smoke is ‘n gerekende vervaardiger en het veral bekendheid verwerf vir sy fenomenale kitaarspel.

DANNY SMOKE SE EERSTE ENKELSNIT TREK AANDAG!
FOTO Verskaf

Daar is omtrent nie ‘n verhoog in die land waarop hy nog nie opgteree het nie en agter die skerms was hy betrokke by die vervaardiging van die grootste treffers en sterre se musiek in Suid-Afrika!

Dit is egter nie hierdie begaafde musikant se enigste talent nie, want sy eerste enkelsnit, 'JOU LIPPE', is pas vrygestel en aanhangers is duidelik dol daaroor!

LEES OOK: Tarryn Lamb releases new music video ahead of 'Maak My Famous'

 'JOU LIPPE', uit die pen van Danny, Johan Vorster en Christoph Kotzé, is ’n voetstamplekker popsnit wat jou uitnooi om saam te sing en dans. Volgens Danny is dit ’n gewaagde liedjie wat gaan oor ’n gevoel wat almal ervaar, maar nooit oor wil praat nie. “Dit gaan oor ’n ou wat dink hy het al alles gesien, geproe en beleef. Die vrou waaroor die liedjie gaan, het hom egter bo verwagting verras – spesifiek met haar lippe – en hy kan nie genoeg van haar kry nie,” vertel die sanger. Ek hou daarvan as mense ’n goeie tyd het en hierdie enkelsnit gaan gehore laat dans, saamsing, hulleself geniet en na iemand laat verlang wat hulle nog nie ken nie.”

 ’n Musiekvideo word ook vir later beplan, maar hieroor wil hy nie veel meer verklap as dat dit kykers sal herinner om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om kanse te vat en soveel herinneringe te maak as wat hulle kan.

 'JOU LIPPE' is ook die eerste amptelike vrystelling vanaf sy debuutalbum, 'SWAELTJIES', wat binnekort uitgereik sal word.

 Wanneer dié veelsydige ster nie besig is om te sing of kitaar te speel nie, hou hy ook sy lyf vervaardiger en voel hy geseënd om al vir twintig jaar betrokke te kan wees in alle aspekte van dié bedryf waarvoor hy so lief is. Ek kom uit ’n musikale familie en daarom was musiek nog altyd deel van my lewe. Op ’n baie jong ouderdom, het ek die geleentheid gehad om ’n kitaar op te tel en te leer speel. Daarmee saam het ek die voorreg gehad om produksiewerk te begin doen vir van die land se top kunstenaars. Dit was nog altyd ’n groot droom om my eie album te skryf, te vervaardig en daarop te sing,” sê hy.

LEES OOK: ADAM spog met nuwe musiekvideo

Volgens Danny put hy die inspirasie vir sy musiek uit persoonlike ervarings en geniet hy elke oomblik wat hy op die verhoog kan wees. Omdat hy self musiek vervaardig, vind hy aanklank by die meeste genres en style. Hy het groot bewondering vir Ryan Tedder van One Republic omdat hy so veelsydig is en respekteer enigiemand wat dapper genoeg is om musiek as ’n loopbaan te kies. Verder meen hy dat dit belangrik is om jou eie stem te vind en te fokus op wat jou uniek maak, omdat musiek nie ’n kompetisie is nie.

Danny Smoke pak alles wat hy doen met passie en presiesheid aan en dit word baie duidelik in sy eerste enkelsnit en opkomende album uitgebeeld. Die moderne benadering en eerlike vertolking van sy musiek en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n opskudding gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook diep in die publiek se harte gaan kruip.

Show's Stories