Hannon Bothma deel mooiste herinneringe en mooimaak-wenke vir Kersfees

Hannon Bothma deel mooiste herinneringe en mooimaak-wenke vir Kersfees

Suid-Afrika se gewildste Glam Guru deel spesiale mooimaak-wenke vir Kersfees.

Hannon
Instagram/ Hannon Cosmetics

Gedurende die emosionele nasionale inperking, was mooimaak dalk laaste op jou doen-lysie. Maar die Glam Guru, Hannon Bothma glo daar is nog hoop hierdie feestyd - en deel ook van sy mooiste Kersfees-herinneringe. 

"Ek en my sussie, Iza, is altyd by my pa tydens Kersfeestyd. Ons braai gewoonlik op Oukersaand met die radio wat in die agtergrond speel. Op Kersoggend gaan ons kerk toe - en daarna maak ons geskenke oop. Ek hou daarvan om by my wederhelfde, Julius, te wees tydens Nuwejaar. Ons gee ook glad nie om op ons eie 'n bottel vonkelwyn oop te maak nie."

Hierdie Kersfees sien Hannon Bothma meeste daarna uit om net tyd saam met sy familie te spandeer. 

"My ma het op 'n stadium 'n baie slegte kankerprognose gekry, en die dokter het gesê sy het nog net etlike maande oor om te leef. Na haar kankerbehandeling, kon sy nog sewe jaar saam ons deurbring."

Na 'n emosionele jaar, het Hannon Bothma hoop en mooimaak-wenke vir vrouens. 

"Die Chinese het die Ying en Yang simbool. 'n Nimmereïndigende tweehelfde-sirkel met lyne wat afloop en weer oploop. Die een kant van die sirkel is swart - en die ander is wit. Dit dui daarop dar wanneer die lewe in 'n afwaartse spiraal gaan moet dit ook weer begin opgaan - dis die wet van die heelal. Die swart en wit dui daarop dat met elke donker gebeurtenis daar ook 'n les van goedheis is wat daaruit spruit." 

Hannon Bothma begin alreeds die lig aan die ander kant van die donker tonnel sien.

"Deur opheffing wat minder word en nuwe vryheid wat ons geleidelik weer ervaar. Solank ons gesond aan die anderkant uitkom, kan ons weer die stene wat afgetuimel het een vir een herbou."

Hannon Bothma glo dat vrouens hierdie feestyd vir die wêreld moet wys dat hulle hul rug op onversorgdheid gedraai het. 

"Om jouself mooi te maak is tof 'n manier hoe jy wys hoe lekker en mooi die lewe is. Gebruik daardie parfuum wat jy net vir spesiale geleenthede hou. Versien jou glimlag met 'n vrolike lipkleur - net nie bruin nie - wend sommer drie lae water-en-smeerbesstande maskara aan sodat jy steed kan sprankel as jy uit die swembad klim. Gaan sit 'n blom in jou hare en dra die helderste uitrusting wat in jou kan is."

Show's Stories