"Kan ek roek?" – Deelia is terug op kykNET

"Kan ek roek?" – Deelia is terug op kykNET

Nóú kan kykers uitsien daarna om nog van Deelia te sien, met ‘n dokumentêre reeks, 'Blomdraers', wat vanaf 30 Desember 20:00 op kykNET uitgesaai word.

Delia
Verskaf/ kykNET

In 2019 het die blommeverkoper van Kaapstad se Trafalgar blommemark, Fadielah Gamildien (of Deelia, soos haar vriende en familie haar noem), tydens ‘n episode van 'Die Siener' kykers laat glimlag met haar pittige sê-goed. Nou kan kykers uitsien daarna om nog van Deelia te sien, met ‘n dokumentêre reeks, 'Blomdraers', wat vanaf 30 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

LEES: "Ek is gesond" - Dozi na vals gerugte oor kanker

In 'Blomdraers', wat uit twee episodes bestaan, word die geskiedenis van die blommeverkopers in die Kaap verken en is die fokus veral op die 150-jaar oue blommemark in Addeleystraat. Daar word gekyk na die roete van blomme na die mark – vanaf die plase in Gauteng tot die blommeveilings by Multiflora in Johannesburg en dan die aankoms uiteindelik by Adderleystraat in Kaapstad.

KYK: kykNET se verjaarsdaggeskenk aan kykers

Kykers ontmoet ook vir Cecilia, die oudste blomdraer op die mark – blomdraer is die naam wat Deelia en die ander blommeverkopers van Adderleystraat dekades gelede vir hulself gegee het.

Deelia se gesin maak ook deel uit van die reeks – almal woon saam in hulle beskeie huis in Grassy Park (en ja, dit sluit sewe kinders en ‘n kleinkind in!). ‘n Tragiese voorval het haar en haar gesin ‘n ruk gelede getref – kykers sal saam met Deelia trane hieroor stort.

“'Blomdraers' openbaar vir die eerste keer op televisie die ware storie van die legendariese blommeverkopers van die Kaap,” verduidelik Rian van Heerden, vervaardiger van die reeks. “Hoe het die blommemark ontstaan, wat was hulle impak op die Kaap, sy flora en sy mense deur die dekades en hoe het Blomdraer Fadielah Gamildien daarin geslaag om die datum van die parlementsopening te skuif? Moenie die ware verhaal van hierdie fassinerende en innemende karakters misloop nie!”

*Blomdraers saai op Woensdag 30 Desember 2020 en 6 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal144) uit.

Show's Stories