"Ons dogtertjie is ons grootste geskenk" - Simoné Pretorius oor haar swangerskap

"Ons dogtertjie is ons grootste geskenk" - Simoné Pretorius oor haar swangerskap

Gewilde aktrise, Simoné Pretorius gesels oor haar swangerskap en Kersfees.

Simoné Pretorius
Instagram/ Simoné Pretorius

In Oktober het die gewilde aktrise, Simoné Pretorius aangekondig dat sy swanger is met haar eersteling. 

Pretorius het met Jacaranda FM gesels oor haar swangerskap en gunsteling Kersfees-herinninge.

LEES: "Kersfees vier ek saam my kêrel" - Leandie du Randt

"Dit was gewoonlik ek en my ma oor Kerstyd en ons het soms vir familie in Worcester gaan kuier. Ons gaan gewoonlik kerk toe op Kersdag en maak geskenke oop op Oukersaand, maar ek en Andries (haar man) is nie so groot op geskenke nie."

"Ek dink mens begin jou eie tradisies vasmaak sodra jy jou eie kinders/gesin het. Op dié stadium float ons tussen al die skoonouers en val in by húlle kersplanne," het Pretorius bygevoeg. 

Hierdie jaar sien Simoné meeste uit om saam familie te wees. "Na ‘n jaar soos 2020 is daar sekere dinge wat ‘n mens nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie. Familie is een daarvan."

LEES: 'Suidooster' se Marco Spaumer gesels oor kleintyd-Kersfees-herinneringe

Vanjaar het Simoné en haar man, Andries hul grootste geskenk ontvang - hul eersteling. 

"My swangerskap is my grootste geskenk hierdie jaar. Ons het nie gedink ons sou so vinnig swanger raak nie, so ons dogtertjie is ons grootste geskenk. Ek raak sommer emosioneel. Ons is só dankbaar en só opgewonde oor haar koms."

Na 'n moeilike jaar, het Simoné steeds moed en hoop. 

"Die hoop beskaam nie. Ek dink 2020 was ‘n jaar van gedwonge stilstand en introspeksie. Skielik waardeer ‘n mens wat jy het, wanneer alles anders verganklik raak. ‘n Vers wat by my opkom is 'Though outwardly we are wasting away, inwardly we are renewed day by day' 2 Kor. 4:16. ‘n Mens groei selde as alles goed gaan. Teëspoed en toetse slyp karakter en my gebed is dat ons sterker aan die einde van 2020 uitkom."

Show's Stories