Jacaranda FM se Dianne Broodryk sê liefde wen met "baie geduld en koppies tee"

Jacaranda FM se Dianne Broodryk sê liefde wen met "baie geduld en koppies tee"

Jacaranda FM se Dianne Broodryk en haar man, Deon, is al vir meer as twee-en-twintig jaar getroud. Om die maand van liefde te vier het ons met haar gesels oor wat liefde vir haar beteken en Valentynsdag. 

Dianne Broodryk and husband Deon
Verskaf

Dianne Broodryk benodig geen bekendstelling nie. Sy is 'n gesoute joernalis, voormalige nuusleser op 'The Complimentary Breakfast with Rian van Heerden' en ook die hoof-koördineerder en vervaardiger van Good Morning Angels op 'Breakfast with Martin Bester'. 

In die Jacaranda FM-kantoor is sy geliefd vir haar menswees, omgee en goeie hart. 

Maar wat baie vergeet is dat sy ook 'n vrou en ma is. 

Sy en haar man, Deon, is al vir meer as twee-en-twintig jaar getroud. Saam het hulle 'n pragtige dogter, Robyn. 

Hoe kry hulle dit reg om dit na soveel jaar saam steeds te laat werk? Dis wat sy gesë het: 

1. Wat beteken liefde vir jou? 

 "Alles... met my hele hart, my hele siel en my hele verstand." 

2. Hoe het jy geweet Deon is die man vir jou? 

"Daardie aand in die fliek, toe ons 'Natural Born Killers' gekyk het. Ons het op dieselfde, onvanpaste oomblik in die storie, kliphard uitgebars van die lag. Net ons twee. Dit was dié oomblik. Sonder dat ek iets gesê het, het hy vir my die sound track van die fliek gaan koop. Ek bedoel... hy verstaan my."

3. Hoe laat jy jou huwelik werk na soveel jaar saam?

"Ek het geen idee nie, maar ek vermoed daar is wedersydse en aansienlike hoeveelhede geduld betrokke... en baie koppies tee."

4. Wat maak Valentynsdag so spesiaal vir jou en jou man? 

"Om die waarheid te sê, was dit nog nooit 'n groot dag op ons kalender nie - ons huweliksherdenking is op 22 Februarie - so ons spaar ons 'moeite' vir die week na Valentynsdag. Ek moet wel byvoeg dat Deon baie beter daarmee is om my met ietsie te verras as ek vir hom, byvoorbeeld een oggend, toe ek nog soggens 04:00 begin werk het, was daar net 'n klein blommetjie uit ons tuin, in my kar se deur."

Hulle is die 22ste Januarie hierdie jaar vir twee-en-twintig-jaar getroud.

5. Wat is jou grootste wens vir jou man? 

"Ek wens my man kan voel hoe ek oor hom voel."

 6. Wat is jou advies vir jong getroudes?

"Doen dinge soos wat dit vir julle werk. Help mekaar. Moenie 'n Instagram-verhouding probeer hê nie - die dinge wat mooi vertoon, is gewoonlik nie waar jou vreugde lê nie. Deel alles met mekaar, behalwe 'n bankrekening."

Dianne Broodryk en haar boesemvriendin, Gerda de Sousa, is al vir jare vriende en het saam studeer. Dié twee het saam begin werk as joernaliste en werk steeds saam by Jacaranda FM. 

LEES: Vir Jacaranda FM se Gerda de Sousa is "liefde 'n veilige hawe"

Dié twee "mevrouens", soos hulle hul self noem, het 'n potgooi waar hulle gesels oor die lewe en al sy uitdagings. 

Luister na 'Mevrou Mevrou' hieronder: 

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories