Bouwer Bosch in gay liefdesverhaal in sy nuwe musiekvideo

Bouwer Bosch in gay liefdesverhaal in sy nuwe musiekvideo

Die musiekvideo van Bouwer Bosch se gewilde enkelsnit, Pleidooi is bekend gestel en dit vertel die storie van 'n stoeier wat met 'n struikelblok gekonfronteer word.

BB

Volgens Bouwer is die metaforiese struikelblok "dinge" in elkeen se lewens waarmee hulle moet vrede maak - in die geval van sy nuwe video - 'n stoeier wat moet vrede maak met sy seksualiteit.

 

"Die karakter wat ek in die video vertolk stoei met sy seksuele orientering...iets waarmee hy moet vrede maak," het Bouwer aan Jacaranda FM News gesê.

Hy voeg by dat dit tyd is in, veral die Afrikaanse musiekbedryf, dat mense vrede maak daarmee dat van hulle gunsteling kunstenaars ook met dié soort wroeginge sit.

 

"Ons sit in 'n bedryf waarin daar baie gay kunstenaars is en dit is hartseer dat meeste kunstenaars nooit hulself kan wees nie," meen Bosch.

 

Maar hy voeg by dat alhoewel hy 'n gay storielyn gebruik het in sy video, gaan dit oor 'n groter kwessie rondom daaglikse struikelblokke.

 

"Ek het nie besluit op 'n gay storielyn om die publiek te skok nie - ek voel maar net aan die einde van die dag moet mens onthou...Liefde Wen!"

Bosch se nuwe aanslag om 'n kortverhaal te vertel deur middel van sy musiekvideos kom na sy betrokkenheid by die vervaardiging van verskeie Afrikaanse films.

 

Pleidooi is die tweede enkelsnit vanaf sy nuwe solo-album, Hopelik, en hierdie alternatiewe popliedjie is 'n mengsel van hartslirieke en nuwe interessante elektroniese elemente wat sorg vir 'n vars klank.

Show's Stories