"Dis vreemd om 'Suidooster' te groet" - Marco Spaumer groet na nege jaar

"Dis vreemd om 'Suidooster' te groet" - Marco Spaumer groet na nege jaar

Een van die mees gehate karakters op Suid-Afrikaanse televisie het in Maandagaand se episode van 'Suidooster' tot 'n val gekom. 

MARCO SPAUMER SUIDOOSTER
Verskaf/ kykNET

Die afgelope paar weke het dié kykNET-sepie se aanhangers al begin moed opgee dat 'Tim du Plooy', wat deur die akteur Marco Spaumer vertolk word, óóit aan die pen gaan ry vir al sy wandade en wreedhede.   

LEES: 'Suidooster' se Marco Spaumer verloof aan bekende radio-omroeper

"Die wiel het egter verlede week vir 'Tim du Plooy' begin draai ná dit op die lappe gekom het dat hy nie net sy vrou, 'Zoë' (Lauren Joseph), laat ontvoer het nie, maar hy het haar boonop laat glo sy is die dogter en erfgenaam van haar oorlede oom 'Ian October' se sakeryk," sê Wilmer Müller, 'Suidooster' se publisiteitsbestuurder.  

LEES: Gewilde '7de Laan'-ster nou in 'Suidooster' te sien

"'Ian October 'was getroud met een van Tim se aartsvyande, 'Bridgette Jacobs' (Denise Newman), en dié twee het mekaar telkemale probeer uitoorlê. Hoewel Bridgette vir Zoë soos haar eie dogter behandel het, het hul verhouding weens 'Tim du Plooy' se gekonkel die afgelope tyd verbrokkel."

MARCO SPAUMER PORTRAIT
Verskaf/ kykNET

Volgens Wilmer het 'Tim du Plooy', na wie ook as 'Timmy Boy' in die sepie verwys word, se kaartehuis verlede week ineen begin tuimel toe hy in 'n laaste desperate poging probeer het om sy voetspore dood te vee.  

"Dinge het egter vir 'Tim du Plooy' lelik skeef begin loop nadat hy deur 'Zoë', 'Bridgette Jacobs' en 'Nazeem Jacobs' (Irvine van der Merwe) gekonfronteer is. Tydens dié konfrontasie het 'Tim' vir 'Nazeem geskiet'. Na 'n struweling is 'Tim' ontwapen en uiteindelik in hegtenis geneem."

LEES: Malcolm Wentzel skenk R100,000 aan jong kankerlyer

In Maandagaand se episode het 'Tim' in die hof verskyn en is hy borgtog geweier, wat 'n spanningsvolle hoofstuk afsluit. Marco, wat deel is van 'Suidooster' se oorspronklike rolverdeling, verlaat ook nou die sepie.  

"Ek wou dit nooit hardop sê nie, maar dis 'n jol om 'n skurk soos Tim te speel," sê Marco oor sy karakter. 

"Ek kan nie glo mense kyk 'n program en raak so warm onder die kraag vir 'n fiktiewe karakter nie. 

"Tog is dit 'n enorme voorreg om in ander sepie-booswigte se voetspore te volg en terselfdertyd my eie spore na te laat." 

"Dis vreemd om 'Suidooster' te groet, want dit is 'n tipe verlies vir my om van Tim afskeid te neem. Hy was so lank deel van my lewe. Tog is ek opgewonde wat nou vir my voorlê," sê Marco.

LEES: KYK: Sanger Dirk van der Westhuizen maak diagnose bekend

'Suidooster' saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uit. Dit is ook beskikbaar op DSTV Stream en Showmax.

Listen to Jacaranda FM: 

Follow us on social media:

More From Jacaranda FM


Show's Stories