Gewilde kykNET-reeks kom tot 'n einde

Gewilde kykNET-reeks kom tot 'n einde

Die program sal tot 27 Junie 2024 uitgesaai word.

kykNET

Die eerste en enigste eksklusiewe telenovela op kykNET&kie (DStv-kanaal 145), 'Arendsvlei', sal ná afloop van die sesde seisoen, wat tans op die lug is, tot 'n einde kom. Die reeks, wat handel oor die semi-privaat Hoërskool Arendsvlei wat deur die Cupido-familie bestuur word, het op 1 Oktober 2018 sy buiging gemaak en is aanvanklik Maandae tot Woensdae uitgesaai.

LEES: Pasiënte klim uit ambulans vir drank

 'Arendsvlei' sou aanvanklik vir slegs een seisoen op die lug gewees het, maar danksy die program se gewildheid onder kykers en twee SAFTA-toekennings vir die eerste seisoen is dit hernu vir 'n tweede seisoen. As gevolg van die voortdurende groei in kykersgetalle is in Oktober 2022 'n vierde episode per week bygevoeg - 'n buitengewone prestasie vir 'n program in dié genre.

"In 2018 het Arendsvlei ons kykers drie aande per week uitgeboul – dit was die eerste volwaardige Afrikaanse telenovela. Hoewel net een seisoen aanvanklik in die vooruitsig gestel is, was die reeks so 'n sukses dat dit weer en weer hernu is," sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale.

LEES: Mej. Wêreld Rolene Strauss verklap groot nuus!

Met 3 Safta-toekennings ná ses jaar in die sak, is dit ’n bewys van die harde werk en kreatiwiteit van die produksiespan en talent wat Arendsvlei 'n huishoudelike naam in Suid-Afrika gemaak het. Op 11 Desember 2023 sal die span 'n mylpaal van 1000 episodes vier. 

"Die span agter 'Arendsvlei' kan geweldig trots wees op die ryk storiewêreld wat deel van ons kykers se daaglikse werklikheid geword het. kykNET bedank Penguin Films, elke akteur en elke lid van die produksiespan wat ons geleer het om hoog te mik," sê Pelser. 

Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die program, voeg by: "Ons is trots op wat ons met 'Arendsvlei' oor die afgelope ses jaar bereik het. Dit het resoneer met baie mense dwarsoor die land en storielyne het hul telkemaal diep geroer. 'Arendsvlei' is anders as 'n sepie – dis 'n telenovela wat altyd tot 'n einde sou kom. Dat dit ná ses jaar steeds kykers boei, is 'n merkwaardige prestasie. Ons is dankbaar dat ons 'Arendsvlei' op die kruin van sukses kan beëindig."

LEES: Só werk nuwe kykNET-realiteitsreeks 'Die Brug'

 Die program sal tot 27 Junie 2024 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai word. 

"Ons is dankbaar dat kykNET ons met die produksie van 'Arendsvlei' vertrou het, en ons hoop om in die toekoms, ná Arendsvlei tot 'n einde gekom het, saam met die skrywers, akteurs en produksiespan aan ander projekte te werk," sluit Durrant af.

kykNET kan bevestig dat daar aan opwindende kanaalinhoud vir kykNET&kie gewerk word, en kykers kan uitsien na vars vermaak wat vanaf vroeg volgende jaar uitgesaai sal word.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories