“Hierdie program is ongewoon en iets anders"

“Hierdie program is ongewoon en iets anders"

In Oktober begin ’n splinternuwe en opwindende telenovelle op kykNET vol intrige, geheime, verbode liefdes en bo alles ’n storie met hart en diepte. 

Camera
Pixabay

Die telenovelle, getitled 'Diepe Waters', word vervaardig deur Penguin Films.

"Diepe Waters is geskep deur ’n wêreldklas-span wat kykNET se kykers en die Suid-Afrika van vandag ken en immer beter probeer verstaan. Elke weeksaand tussen Maandag en Donderdag om 18:00 sal hierdie karakters leef in die huise van ons kykers, by wie ons hoop hulle geliefd sal raak. Ons roeping is om boeiende, outentieke stories te vertel waarmee kykers hul aand se kykgenot met genoegdoening kan afskop. Ons hoop Diepe Waters sal aan ons kykers se hoë verwagtinge voldoen," sê Waldimar Pelser, direkteur van die kykNET- kanale.

LEES: kykNET bring die 'Real Housewives'-formaat na Pretoria

Die storiewêreld speel af in-en-om ’n kompeterende swemklub, Die Swartmarlyne, wat deur Gys Swarts besit word. Die Swartmarlyne-swemklub is ’n familiebesigheid waarby albei Gys se seuns, Rossouw en Jacques, betrokke is. Familiebesighede is die perfekte spasie vir familiedrama. En om die spanning te verhoog swem Gys se kleinkinders, Karla en Johan, ook vir die Swartmarlyne se swemspan.

Karla is ’n jong tiener wat sukkel met die daaglikse druk van kampioen-wees. Dis ook nie sonder meriete nie, aangesien haar ma, Sanet, glo sy kan ’n beurs oorsee losswem en nooit minder as perfeksie van Karla verwag nie. Johan aan die anderkant smag na sy Oupa Gys se goedkeuring, maar is net nooit so goed soos Karla is nie. Rossouw en Sanet lyk op die oog af soos ’n gelukkige paartjie, maar wanneer hulle verlede by die deur instap, word hulle alledaagse normaal onverwags omvergegooi.

Jacques, wat steeds op Gys se erf woon, is die smeulenede afrigter vir wie se aandag al die swemmammas en aquarobics-tannies baklei. Maar hy is in sy hart ’n sagte teddiebeer by wie meer as een persoon afpak oor hulle daaglikse struikelblokke.

Dis teen die agtergrond van hierdie swemklub wat ons verskeie families leer ken wat alles in hulle vermoëns sal doen om kop bo water te hou terwyl hulle hoop dat hul geheime in diepe waters sal wegsink.

LEES: Springbok Damian de Allende deel opwindende nuus

Zelda Joubert, die eienaar van die skoonheidssalon Skinvestment, kan egter nie vir Gys verdra nie. Hierdie eeue lange afkeuring van die man gee vir Zelda ’n nuwe huppel in haar stap wanneer sy besef sy moet eerder haar vyande so na as moontlik aan haar hou. Die feit dat Zelda se oogappel, Meghan, nie eens haar eie bloed is nie maak dit vir Pam, haar dogter, baie moeilik om uit te styg bo Zelda se hoë standaarde.

Liewe Lettie hardloop haar eie suksesvolle keffie en dis hier waar ons karakters lafenis vir hul siel kan vind, nie net in Lettie se varsgebak nie, maar ook op haar skouer.

Henry neem die rol van die nuwe opsigter by die klub in en sy aangenome seun, Tshepo, dien as ’n groot bedreiging vir Johan en sy reputasie.

Wanneer Nina de Wet en haar ouers, Wim en Rose, deel vorm van die Swartmarlyne- swemklub, voel Karla se hart sommer ligter. Die twee is vinnig-vinnig boesemvriende en albei het eindelik iemand met wie hul hul hartsgeheime kan deel.

LEES: kykNET se splinternuwe drama amper te sien

In hierdie gemeenskap is dit maklik om soos ’n vis uit die water te voel en die karakters besef vinnig dat hulle vuil wasgoed nie so maklik met water skoon gewas kan word nie en elkeen staan die kans om oopgevlek te word vir wie hulle werklik is.

“Hierdie program is ongewoon en iets anders, maar tog ’n telenovelle oor liefde, geheime, intriges en planne om wraak te neem. Ons het ’n ongelooflike rolverdeling en interessante omgewing en ons hoop dat die kykers aanklank daarby sal vind,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die 'Diepe Waters'.

Penguin Films vervaardig ook programme soos 'Arendsvlei', 'Afgrond' en 'Projek Dina'. 

Volg ons op sosiale media:

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories