Ons bid saam, sê Suid-Afrikaner in Suid-Soedan
Updated | By Marlinée Fouché
Suid-Afrikaners is versprei tot in die uithoeke van die vasteland, in van die moeilikste plekke om te werk. Dis egter juis uit hierdie plekke waar hoop, deursettingsvermoeë en doodgewone menslikheid die helderste skyn.
Suid-Soedan is geen uitsondering nie, en die Suid-Afrikaners wat daar werk, is nie van plan om binnekort ‘n ander bestemming te soek nie – selfs al werk hulle dikwels in ‘n see van vlugteling-tente.
“Die vlugtelinge praat nie regtig Engels nie, maar wanneer ons by hulle uitkom, probeer ons om nie negatiwiteit na ‘n negatiewe ruimte toe te bring nie,” sê Sean Jackson, ‘n kontrakvlieënier vanuit Juba.
“Ons klets met hulle, en bid saam met hulle en wanneer hulle ons sien, weet hulle daar kom goeie nuus.”
Jackson lewer ondermeer noodhulp via Dokters Sonder Grense of The Christian Aviation Fellowship aan vlugtelinge aan die bo-punt van Suid-Soedan.
Dis mense wat uit Soedan vlug, waar ‘n uiters gewelddadige oorlog woed tussen die weermag en die Rapid Support Forces.
LEES HIER OOR DIE KONFLIK IN SOEDAN:
Jackson praat nie regtig oor die geweld wat hy teëkom nie.
“Jy kan dit nie in woorde omskryf nie,” sê hy. “Dis grusaam. Hier is soveel verkragtingsake dat vroue dit nie eens meer aanmeld nie. Van die kindertjies het nie arms of bene nie, weens bomontploffings in hulle huise of in hulle dorpies...”
Volgens hom, is daar ook geen lugverkeer oor groot dele van Soedan nie, uit vrees vir mortier- of ander aanvalle. Dit stop hom en sy vriende egter nie om 500kg tot ‘n ton medikasie of kos op ‘n slag, na behoeftige gemeenskappe te neem nie.
Partykeer vlieg hulle boonop in met medisyne en kom terug met ‘n kajuit vol mense. Hy vertel juis van ‘n vriend wat drie vlugte in sewe ure onderneem het, om desperate mense na veiligheid te bring.
Hy sê egter, wanneer mens in die truspieëltjie vaskyk in glinsterende oë, is alles die moeite werd: “Die meeste van hulle is jonk. Daar is hoop dat dinge vir die beter gaan verander. Dis inspirerend, om die minste te sê.”
LUISTER HIER NA SEAN EN NICO SE STORIES:
Ten spyte daarvan dat Suid-Soedan olieryk is, en glo oor heelwat landboupotensiaal beskik, is dit een van die wêreld se armste lande en die meerderheid landsburgers voer daagliks ‘n stryd teen wanvoeding.
Dis hier, waar Nico Jacobs help om ‘n verskil te maak. Hy is ‘n konvooileier vir die Wêreld Voedselprogram, en afhangend van die vrag en die bestemming, kan hulle tot 3 maande lank op die Wit Nyl vaar.
Hy’s juis op pad iewers heen toe ons bel.
“Ek kom nou weer op ‘n plek waar daar grond is, waar dit maklik is vir die mense om die kos te kry. Dan kom jy op ander plekke, wat jy fisies nie op die land kan kom nie.”
In hierdie gevalle kom gemeenskapslede op bootjies na hulle toe, tussen landerye vol water – om kos te haal.
Hy sê die meeste mense wat hy teëkom woon op die rand van die water in “houthuisies wat gebou is uit riete en bamboesstokke en met modder toegeplak is... die water is so tot op die punt van die huisies, maar hulle survive,” sê hy. “Hulle het nie iets anders om te doen nie.”
Dis egter nie mense wat op hulle hande sit en wag dat die wêreld to hulle redding kom nie.
“’n Interessante ding vir my, is die manier hoe die mense visvang, leef op die vis en geld maak uit die vis.”
Hy het al ‘n keer of wat self vis gevang, en is oortuig daarvan dat hy al meer spesies vis daar gesien het as in Suid-Afrika se waters.
Daar is boonop nooit ‘n tekort aan vriendelike gesigte nie.
“Ek het baie Soedannese vriende. Jy maak vriende, want jy’t ‘n drywer wat jou moet rondry, maar baie keer is jy in ‘n plek waar jy nie vervoer het nie, dan het jy ten minste ‘n vriend wat jou kan optel met ‘n motorfietsie en na plekke toe neem – daar’s altyd ‘n vriend of twee.”
Vra mens of hy binnekort iewers anders wil werk, is dit geen verrassing dat hy nie haastig is om op ander waters te seil nie.
MORE ON JACARANDA FM:
Show's Stories
-
PSA for couples holding hands during festive shopping
It's that time of the year when shoppers are happy to visit the overcrow...
The Workzone with Alex Jay 2 hours ago -
Lighthearted humour at the traffic light
It's always a plus to experience some traffic light humour, so why not p...
The Workzone with Alex Jay 2 hours ago