'n Boodskap van hoop: 'Kwêla' konding Dorp van die Jaar 2023 aan

'n Boodskap van hoop: 'Kwêla' konding Dorp van die Jaar 2023 aan

Dit was gelukkige nommer 13 vir Delmas toe dié diverse juweel van 'n dorp Sondagaand met die kroon as kykNET se 'Kwêla' Dorp van die Jaar, in samewerking met Lottoland, weggestap het.

Delmas Kwela Dorp van die Jaar
Verskaf/ kykNET

Dié dorp in Mpumalanga se naam word nou by 'n gesogte lysie van wenners, wat 12 ander dorpe insluit, gevoeg. 

Verlede jaar het Kroonstad in die Vrystaat met die louere weggestap, terwyl Greyton, Kareedouw, Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra het. 

KYK: Sexy Brendan Peyper opsoek na liefde

Vanjaar, vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie, skenk Lottoland R1 miljoen kontant aan die wendorp. 

Dié geld sal vir 'n spesifieke projek wat Delmas sal verbeter, gebruik word. Dit sal ook geoudit word. 'Kwêla' sal later weer besoek aflê om vir kykers te wys wat met die prysgeld uitgerig is. 

Kyk hier vir meer:

Dr. Martin van Rensburg, 'n plaaslike predikant en Delmas Herleef-projekleier, is een van die steunpilare wat Delmas na sukses help dryf het, al het hy homself eers vyf jaar gelede op die dorp gevestig. 

Saam met die sameroeper Madel Fourie ('n vyfde geslag-inwonwer), 'n groot groep vrywilligers en in samewerking met die Victor Khanye-stadsraad het die Delmas Herleef-gemeenskapsorganisasie die afgelope twee jaar die dorp begin skoonmaak en verfraai. 

Teen die einde van hul 'Kwêla' Dorp van die Jaar-veldtog het Delmas Herleef 'n optog – met 'n trekker, sleepwa en al – deur die dorp gelei om inwoners aan te moedig om te stem. En die Sondag na kerk was daar ’n gemeenskapsbraai by een van die plaaslike skole waarheen al die kerke en skole uitgenooi was. Bemarking op sy beste.

LEES: Talle teken petisie om '7de Laan' te red

Dit het groot vrug afgewerp, want dié pragtige dorp kan nou spog met die 'Kwêla' Dorp van die Jaar-titel. 

Madel was glo so oorbluf toe sy die oproep gekry het oor Delmas se sege dat haar hart woes aan't klop gegaan het. 

"My horlosie het heeltyd vir my gevra of ek oukei is," het sy laggend aan 'Kwêla'-aanbieder Hannes van Wyk vertel.

'n Boodskap van hoop

Vir Martin hou Delmas se prestasie 'n baie groot en belangrike boodskap in – 'n boodskap van hoop.

"Daar is hoop vir plattelandse dorpe wat oor die algemeen swaarkry en ons beskou hierdie wen as ons geleentheid om vir ander plattelandse dorpe te wys daar is hoop."

Hy wil ook sien dat daar nuwe lewe in die platteland geblaas word en dat dit die uitvloei van mense na stede sal stop.

KYK: Beer in dieretuin vermoedelik eintlik 'n mens

"Ons wil graag hê dat ander dorpe by ons kom leer en dat Delmas ’n inspirasie en voorbeeld kan wees vir wat bereik kan word as mense saamstaan. Daar is hoop in Suid-Afrika en dit begin by ons op grondvlak."

Die dorpe wat vanjaar as finaliste was, is: 

Delmas (Mpumalanga), Parys (Vrystaat), Bonnievale (Wes-Kaap), Margate (KwaZulu-Natal), Walvisbaai (Namibië), Hartbeespoort (Noord-Wes/Gauteng), Willowmore (Oos-Kaap), Rooiberg (Limpopo) en Nieuwoudtville (Noord-Kaap)

'Kwêla' word Sondae om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Volg ons op sosiale media: 

FOTO: Verskaf/ kykNET

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories