Alfred Adriaan neem die aanbiedersrol van 'Roer' by Tammy-Anne Fortuin oor

Alfred Adriaan neem die aanbiedersrol van 'Roer' by Tammy-Anne Fortuin oor

Ná amper ’n dekade word die leefstyl- en koskuierprogram, 'Roer', weer opgedis en is dit een van die unieke plaaslike bestanddele vir kykNET&kie se varsgebakte Saterdagaandspyskaart.

Roer Alfred Adriaan
Verskaf

En die nuwe aanbieder wat 'Roer' gaan opklits, is Alfred Adriaan, wat die afgelope paar jaar lag-lag een van Suid-Afrika se topkomediante geraak het.

LEES: 'Ons mis vir Shaleen' sê kykNET-hoof Waldimar Pelser

Alfred (40) is ’n boorling van Hankey in die Oos-Kaap, maar woon deesdae in Johannesburg saam met sy vrou Natalie en seuntjie, Ethan, wie gereeld in sy skreeusnaakse video’s op sosiale media verskyn.

Buiten Alfred wat die aanbiedersrol by Tammy-Anne Fortuin oorneem, bly die 'Roer'-wenresep basies dieselfde as voorheen: ’n bekende persoonlikheid kuier saam met Alfred agter die kospotte, terwyl hulle kuier, lag en dalk soms ’n traantjie pik soos hulle bak en brou. Alfred verras hulle ook met ’n familielid, geliefde of vriend.

LEES: Maak gereed vir 'n nuwe avontuur met Nataniël en Erik le Roux

“Die nuwe seisoen van Roer gaan regtig oor pret, pret, pret! Ons bekende gaste is baie nice mense en ons wil ’n ander kant van hulle wys, wat kykers nie noodwendig ken nie,” sê Aflred.

“Dinge is regtig casual en fun in die Roer-kombuis so ons slaag daarin om bietjie meer uit die gaste te kry.” Vir Alfred is die lekkerste deel van sy aanbiedersrol dat hy net homself kan wees.

“Daar is nie ’n teks nie en dit is nie voorskriftelik nie, wat beteken my eie persoonlikheid kan na vore kom en ek kan grappies maak,” vertel hy.

LEES: Ontmoet die ses vroue van 'Die Real Housewives van Pretoria'

“Dit maak dit baie chilled en enige iets kan in ’n episode gebeur, want die oogmerk met Roer is dat almal net hul gemaklike self moet wees.”

Van die gaste wat in die 'Roer'-kombuis kom kuier, is musieksterre soos Early B en Frazer Barry, sepiesterre wat onder andere Jawaahier Petersen (Suidooster) en Cedwyn Joel (Suidooster) insluit en ander bekendes soos Aden Thomas, Ingrid Jones en Marlene le Roux.

LEES: VIA is opsoek na SA se top-trouvrou in nuwe program

Dit begin Saterdag 1 Oktober om 18:30 op kykNET & kie en is deel van die kanaal se nuwe naweekvermaak- aanbod. 

Skakel in op 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 -19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories