FOTO’S: kykNET se 'Arendsvlei' vier 500 episodes!

FOTO’S: kykNET se 'Arendsvlei' vier 500 episodes!

kykNET se eerste telenovelle, 'Arendsvlei', vier haar 500ste episode! 

Arendsvlei
Verskaf/ Arendsvlei

kykNET & kie se eerste telenovelle, 'Arendsvlei', vier vandag haar 500ste episode. 'Arendsvlei' het op 1 Oktober 2018 afgeskop en die liefde en leed in die Vlei is lank nie klaar nie!

LEES: Sepiepaartjie verwag eersteling

Die telenovelle was aanvanklik net vir een seisoen goedgekeur, maar kykers het so vinnig daarby aanklank gevind dat twee ekstra seisoene bygevoeg is.

Die eerste en tweede seisoene het elk drie keer per week van Maandae tot Woensdae uitgesaai en is in die derde seisoen na vier episodes per week verleng. Die telenovelle word by Atlantic Studios in Montague Gardens en Eersterivier geskiet.

LEES: FOTO'S: 'Getroud Met Rugby' se David en Christel is verloof

'Arendsvlei' se eerste seisoen is ook vir nege SAFTA’s benoem en het met twee daarvan weggestap. Roberto Kyle het die SAFTA-toekenning vir beste akteur in ’n telenovelle gewen terwyl Beatrix van Zyl die SAFTA vir die beste kunsdepartement in ’n telenovelle gewen het.

'Arendsvlei' is die huis vir van Suid-Afrika se grootste talente; van Jolene Martin, Jody Abrahams, Crystal Donna Roberts, Melanie du Bois, Kay Smith en vele meer. In seisoen drie het nóg groot akteurs by ons aangesluit, soos Vinette Ebrahim, Chris van Niekerk, Natalia da Rocha en Dann-Jacques Mouton.

LEES: 'Arendsvlei' se Melissa de Vries deel boodskap van hoop vir Vrouedag

Die talentvolle akteurs en produksiespan het gister die groot mylpaal op stel gevier met ’n pragtige koek en sjampanje.

Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van 'Arendsvlei', sê sy is verskriklik dankbaar vir kykNET dat hulle vir Penguin Films die geleentheid gegee het om dié storie te vertel.

“Ons kon baie talente in die Kaap ontwikkel deur 'Arendsvlei'. Jong akteurs het hul eerste rolle gekry op 'Arendsvlei' en ons kon nuwe regisseurs, skrywers, redigeerders en bemanning agter die skerms ontwikkel en oplei. Baie geluk aan die span met dié groot mylpaal. Julle harde werk gaan nie ongesiens verby nie,” sê Roberta.

LEES: Wat lê nog voor vir akteur Sean van Noordwyk?

Theltom Masimila, kreatiewe vervaardiger en skepper van 'Arendsvlei', sê hy is ontsettend trots op die akteurs en produksiespan vir al die harde werk wat hulle insit.

“Ons sien uit om vir nog baie lank die stories van die mense van 'Arendsvlei' te vertel. En die belangrikste van als, ons is dankbaar vir die kykers sonder wie so ’n produksie nie kan bestaan nie,” sê Theltom.

'Arendsvlei' word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. 

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16: 00-19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: Verskaf/ 'Arendsvlei'

Show's Stories