VIA maak die slaapkamerdeur oop in nuwe program

VIA maak die slaapkamerdeur oop in nuwe program

Vergeet van tong-in-die-kies, VIA praat binnekort sommer uit die slaapkamer uit! 

Intimate young couple
Intimate young couple/ iStock

Dis 2022 en gesprekke rondom seks hoef nie meer taboe te wees nie! Dis veronderstel om gemaklik en informeel te wees – dis dié dat VIA Uit die slaapkamer praat in ’n splinternuwe geselsprogram. Of jy enkellopend is, in ’n verhouding staan of vrae het oor hoe om dáái gesprek met jou kinders te hê – jy kan baat vind hierby én selfs ’n ding of twee leer!

Ons paneel het al alles gesien (of die mééste goed!) en is nie skaam om te deel nie. Dr. Elna Rudolph, ’n seksuoloog en mediese dokter, vat voor met die gesprekke oor seksuele gesondheid en die res van die paneel gesels saam oor intimiteit en ander kwessies.

Adri Vivier wat op die VIA-program 'Ouma Weet Mos' raad gee, deel nou meer as nét sielkundige raad uit. Adri is ’n oudonderwyser, ma van vier en deeltyds ook ’n akteur. Haar raad sorg vir ligter, dog insiggewende oomblikke, veral wanneer dit by ouerskap kom. Die sanger en akteur Bianca le Grange bring haar prettige en sê-dit-soos-dit-is-persoonlikheid wat sorg vir baie vermaak. Akteur en aanbieder Neels van Jaarsveld gee veral raad en insae vanuit ’n manlike perspektief.

Elke week takel ons span kykersvrae wat insig gee in iets waaroor meeste mense nog altyd gewonder het: van mediese kwale rondom seksuele gesondheid en ouers wat raad vra oor seksuele opvoeding tot selfs net advies vir ’n beter sekslewe. Die onderwerpe sluit in menstruasie tydens seks, hoe gemaak met ’n lae libido, voorbehoeding vir tieners, seksspeelgoed vir vroue én mans, vaginale geboorte versus keisersnit ... dít en nog baie ander interessante onderwerpe word gedek.

“Ek is passievol oor seksuele gesondheid en om die regte inligting te gee, want daar is baie vrae en dikwels min antwoorde,” verduidelik dr. Elna. “Meer kennis oor seksuele gesondheid hou twee voordele in. Hoe meer jy weet oor seks, hoe meer kan jy swaarkry rondom dit voorkom. En dan natuurlik ook: Hoe meer jy van seks weet, hoe groter is jou kans om jou seksuele plesier te verbeter wat voordelig is vir jouself en vir die gehalte van jou verhouding.”

“Kykers kan uitsien na lekker uit die maag lag, daardie ongemaklike giggel of veelbetekenende glimlag oor al die verskillende dinge wat ons bespreek,” verklap dr. Elna.

“Ons vreeslose aanbieder en ongelooflike paneel het uit die staanspoor moeilike én soms persoonlike vrae met deernis en empatie hanteer,” sê Mareli Olivier, die regisseur.

Kykers kan vanaf 6 Julie elke Woensdag om 21:00 inskakel vir Uit die slaapkamer. Die program gaan Engelse onderskrifte hê en gaan op DStv Now en ook in die DStv-app beskikbaar wees. 

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16: 00-19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Volg ons op sosiale media: 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories