Ontmoet #SpanLeRoux en #SpanScheepers van 'Kwarantyn'

Ontmoet #SpanLeRoux en #SpanScheepers van 'Kwarantyn'

Twee families gaan vanaf 10 Junie 2020 meeding vir die publiek se stemme terwyl hulle vir amper 2 maande in 'Kwarantyn' gaan moet leef. Op die spel is ‘n kontantprys van R250 000.

 

#SpanLeRoux
Verskaf/ kykNET

Verwag drama, pret en manewales wanneer hierdie twee families met mekaar moet huishou terwyl hulle ook alles in hulle vermoë doen om die harte van kykers te wen.

Jy’t reg gehoor. In 'Kwarantyn' help die kykers besluit wie uiteindelik die kontantprys van R250 000 verdien nadat hul vir 50 dae regstreeks kon dophou hoe hierdie twee families verskillende uitdagings, take en selfdoenprojekte aanpak. En dit alles agter slot en grendel. 

Elkeen van die families sal in ’n nuwe huis intrek en langs mekaar woon. Nie net moet hulle vir twee maande lank saamleef nie, maar hulle sal ook teen mekaar meeding deur, onder meer, volgers op  sosiale media te probeer werf en elke aand in ’n speletjiesaanduitdaging teen mekaar te speel vir punte. Suksesvol voltooide uitdagings sal soms beloon word met luukshede en bederfies. In elke huis sal egter ook streng reëls neergelê word. 


Maar net één familie sal uiteindelik as die land se gewildste familie bekroon word.

'Kwarantyn' sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word. 

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut lange hoogtepunteprogram (maar Woensdae is dit 48 minuut lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

“Voyeuristiese televisie het kykers nog altyd  gefassineer en om twee dinamiese Afrikaanse families vir 24uur per dag vir vyftig dae aan een dop te hou, kan sorg vir groot opwinding, vermaak, emosionele oomblike, nuwe insigte en verrassings.  Ons weet nie wat om te verwag nie, maar sien uit waarmee die twee families vorendag gaan kom” -  Karen Meiring, Direkteur M-Net: kykNET-kanale. 

Ontmoet die families: 

#SpanLeRoux

Dié familie kom van Centurion. Pa, Braam Le Roux (50), sal graag vir sy dogter se troue met die wengeld betaal indien sy familie wen. Hy raak nie maklik verveeld nie en beklemtoon geesdriftig: “Ek is ’n bok vir sports!” Sy vrou, Jana Le Roux (49), lag graag vir haar familie se grappe en geite, maar sy glo vas dat haar familie as oorwinnaars sal uitstap ná die 50 dae, want hulle het spangees en hope ywer.

Hulle kinders, Lisa (25) en Manie Le Roux (19), hou beide van wen, maar is ook nie slegte verloorders nie. Lisa is verloof aan Adriaan Briel (26), wat ook in die huis sal wees saam met sy aanstaande skoonfamilie. Hy is mal oor poetse bak en sê hy’s nie bang vir verveling nie, want hy het uithouvermoë.

Hul neef Heinrich Olwage (25) is ook deel van #SpanLeRoux. Hy hou daarvan om innoverend probleme op te los en belowe dat sy familie kykers voorwaar op hul tone gaan hou.

#SpanLeRoux
Verskaf/ kykNET

#SpanScheepers 

Dié saamgestelde familie is oorspronklik van Johannesburg. Ma Avril Scheepers (46) en tante Pamela Okkers (53) sal hierdie energieke familie lei. Beide is sterk vroue wat oortuig is daarvan dat hul familie as wenners sal uitstap, want hulle is talentvol, interressant en baie snaaks.

Avril se seun, Austin Scheepers (19), se borrelende persoonlikheid gaan verseker dat hy vriendskappe smee al bly hy steeds uiters kompeterend. Span Scheepers bestaan ook uit hul uitgebreide familievriende naamlik die twee Hendrick sussies Kel-cee  (20) en Jade (18) wat na hulself verwys as “die niggies”. Kel-cee is ietwat aan die stiller kant en beskryf haarself as “die persoon wat liewer kyk en lag”. Die span is voltallig met die teruggetrokke Caryn Cloete (21) wat maklik vir almal se poetse val.

Die jong Jade Hendricks glo #SpanScheepers is vol persoonlikhede wat die hele land sal vermaak met hulle grappe, giere en maniere. 

Eersdaags sal hierdie twee families dinge moet uitspook terwyl die hele land hulle met valkoë dophou. Dit alles vir die wenbedrag van R250 000 en die kroon as Suid-Afrika se gunsteling Kwarantyn-familie.

#SpanLeRoux
Verskaf/ kykNET

Kyk 'Kwarantyn' vanaf Woensdag 10 Junie 20:00 op kykNET DStv-kanaal 149.

Hoogtepunte episodes Maandae, Dinsdae, Donderdae, Vrydae en Saterdae om 17:00 op kykNET DStv-kanaal 144 en Woensdae om 20:00. 

Bly ook op hoogte van al die aksie op kykNET.tv. 

Show's Stories