Rian van Heerden besoek SA se mees unieke mense in nuwe reeks, 'Karakter'

Rian van Heerden besoek SA se mees unieke mense in nuwe reeks, 'Karakter'

 

Suid-Afrika is ’n wonderlike, diverse plek. Ons lê dalk aan die suidpunt van Afrika, maar het al enorme sukses op alle vlakke behaal. Maar dit is veral die mense wat van Suid-Afrika ’n unieke plek maak.

Rian van Heerden
Verskaf/ kykNET

In die nuwe dokumentêre reeks 'Karakter' gaan kykers die aanbieder Rian van Heerden deur die land volg op soek na die mees unieke mense; daardie eksentrieke mense wat gemeenskappe aan die praat en wonder het. Die gewoonONgewone mense wat hulle nie steur aan wat ander dink nie, maar voortgaan en hulle lewens leef soos hulle wil.

FOTO'S: 'Fynskrif' se Edwin van der Walt raak verloof op strand

So is daar Rusty Pool, ‘n voormalige tronkwag, wat deesdae toeriste op ritte deur Cullinan neem in ‘n doodskis wat aan sy driewiel-motorfiets gehak is. Of Rita Woodall-Terblanche, ‘n voormalige nudis, lid van die AWB en Lotto-wenner wat met haarself getrou het. Vanessa Faarking Jarvis het poedelnakend op ‘n wit perd deur die strate van Clarens gery nadat sy kankervry verklaar is en John Wayne het al meer as 200 ure op sy liggaamskuns, onder meer tatoeërmerk oor sy hele gesig, spandeer.

John Wayne
Verskaf/ kykNET

“Ons loop al geruime tyd met die idee vir die program,” sê Van Heerden. “Ek het oor die jare besef dat veral eksentrieke mense meer geneig is tot ‘n lekker gesprek. Veral as jy hulle in hulle eie, bekende omgewing besoek. Dis belangrik om feite van fiksie te onderskei wat uitsonderlike mense betref. Daar is altyd stories, maar wat is waar en wat is wolhaar?”

LEES OOK: 'SWIRL': Nuwe Afrikaanse fliek binnekort op kykNET & Kie

Van Heerden sê sy gawe om interessante mense in ons samelewing op te spoor, was nog altyd daar. “Ek is altyd op die uitkyk,” sê hy. “En daar was nog nooit ‘n tyd dat ek nie iets by hulle geleer het nie.” 

Wat dink hy maak Suid-Afrikaners uniek? 

“Ek dink ons hardnekkigheid. En ons vermoë om altyd te kan glimlag – ten spyte van die onmoontlikste omstandighede.”

'Karakter' ‘n reeks van dertien episodes elk met ‘n interessante karakter as fokus, begin Maandag 5 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16: 00-19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

FOTO'S: Verskaf/ kykNET

Show's Stories