William Wolf se jongste musiekvideo vra: "Wie is jy?"

William Wolf se jongste musiekvideo vra: "Wie is jy?"

“Wie is jy?” lewer sosiale kommentaar oor hoe maklik dit is om iets of iemand te wees wat ander mense van jou verwag, eerder as om te wees wie jy werklik is. Kyk die musiekvideo hieronder!

WILLIAM WOLF
William Wolf / Youtube.

Die sanger en liedjieskrywer William Wolf se jongste enkelsnit “Wie is jy?” is ʼn alternatiewe popliedjie wat die luisteraar uitdaag om na binne te kyk vir antwoorde op die eeue-oue vraag: “Wie is jy?”.

LEES OOK: WATCH: Pierre Nel releases music video for 'Collide'

Wolf het die liedjie saam met Ewald Janse van Rensburg van PopKult geskryf en vervaardig. Die liedjie het hóm gekies en wanneer hy musiek skryf is dit asof dit net op ʼn manier op die bladsy beland.

“Toe ek die woorde ‘wie is jy wie jy wil wees” neerskryf, het ek geweet daar is ‘n liedjie. Ek het ook dadelik die koor se melodie ‘gehoor’,” sê die sanger wat in 2008 as wenner van die ATKV Crescendo-liedjieskryfkompetisie aangewys.

'Wie is jy?' is ʼn belangrike vraag wat hy homself in sy eie lewe ook vra en streef hy daarna om die beste weergawe van sy ware self te wees. Hy ag dit ook belangrik om nie homself te verloor in dinge wat hom nie uiters opgewonde maak nie.

“Ek is egter nie perfek nie, net soos enigiemand anders, en dit is moeilik om jou outentieke self te kan bly in die wêreld daar buite, veral in die vermaaklikheidsbedryf.”

Die liedjie' is ʼn goedvoel-liedjie oor ʼn moeilike onderwerp wat poog om die luisteraar te inspireer om dieper te kyk na die antwoorde op die belangrike vraag wat gevra word.

KYK OOK: Kyk Saarkie se musiekvideo vir 'Reënweer'

Die musiekvideo vir "Wie is jy" is in Bloemfontein geskiet en is deur Jaco van Bosch vervaardig. Die verfilming van die video was groot pret aangesien William die melodie en lirieke agteruit moes leer sing. Alles in die video gebeur agteruit – behalwe sy mond en wat hy sing – en gevolglik begin die video met die einde en eindig met die begin.

KYK DIE MUSIEKVIDEO HIERONDER:

Wolf is al vir 18 jaar in die musiekbedryf doenig en is onder meer in 2003 vir ʼn Sama-toekenning benoem. Hoewel hy nie in ʼn musikale huishouding grootgeword het nie, is hy van kleins af blootgestel aan die musiek van onder meer Queen, Beach Boys, Bon Jovi en Eric Clapton.

Plaaslike kunstenaars wat hom inspireer is liedjieskrywer Lize Beekman, asook alternatiewe rock-musikante soos Francois van Coke en Laudo Liebenberg en die Afrikaanse musiekgroep Die Heuwels Fantasties.

Show's Stories