'Suidooster': Dié nuwe karakter bring 'drama, skurke en komedie'

'Suidooster': Dié nuwe karakter bring 'drama, skurke en komedie'

Hierdie karakter bring liefde, skurke, musiek, drama en 'n bietjie komedie na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar 'Suidooster' afspeel.

Suidooster
Instagram/ Suidooster

Die veteraanakteur Jürgen Hellberg is nou in die kykNET-sepie 'Suidooster' te sien waar hy Dinsdag (5 September) sy eerste verskyning as Rassie Viljoen gemaak het.

Jürgen het veral bekendheid verwerf vir sy rol as as Kitte Muller in 'Binnelanders', 'n rol wat hy vir sowat vier jaar vertolk het tot en met sy karakter se omstrede dood in 2009.

LEES: Glansvrou Gloria Arendz wys haar Switserlandse-huis

Ander bekende Afrikaanse reekse waarin hy te sien was, sluit ook 'Getroud Met Rugby' en 'Die Vierde Kabinet' in. 

Volgens Jürgen is sy 'Suidooster'-karakter 'n rustige, koel ou rocker wat nou ’n radiostasie bestuur. En natuurlik 'n oog het vir mooi dames.

"Rassie het ook ’n tikkie 'skelmgeit' in hom, maar natuurlik op die mooiste moontlike manier," sê hy.

"Hierdie karakter bring liefde, skurke, musiek, drama en 'n bietjie komedie na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar 'Suidooster' afspeel."

LEES: Jong burgemeester Cilliers Brink se droom vir Tshwane

Jürgen Hellberg
Verskaf/kykNET

Jürgen sê hy het dit geniet om deel te wees van 'Suidooster'. 

"Almal is so gaaf en vriendelik – van die bestuur, die ateljeespan, die akteurs en regisseurs tot by die sjef in die kantien."

'Dit was vir my ’n vars, nuwe wêreld met ou vriende en kollegas, maar ook baie nuwes – oud en jonk. Die talent is verstommend, en die wyn in die Kaap is ook nie sleg nie."

Om op 'n sepiestel te wees, kom ook met sy uitdagings, sê hy.

"Die pas is vinnig, intens en meedoënloos. Ek geniet die druk, maar ek kan nie sê ek verkies dit bo gewone TV-dramas en rolprente nie. 

"Toneelspel is toneelspel en ek geniet dit, maak nie saak watter genre of medium nie," verduidelik hy.

 Volgens 'Suidooster' se publisteitsbestuurder, Wilmer Müller, gaan Jürgen se karakter vir ’n paar ligte oomblikke besorg, veral as Rassie en Kate (Annelisa Weiland) mekaar van nader leer ken. 

LEES: Tuinier gooi beweerde dief met bakstene

Jürgen Hellberg
Verskaf/kykNET

"Andersins wag daar weer eens behoorlike naelbyt-sepiedrama in die komende weke," sê hy.

"Met die koms van ’n nuwe seisoen, is dit nie noodwendig ’n kwessie van die heerlike lente en die winter is verby nie . . . Ja, Ruiterbosch, het omtrent ’n stormagtige winter agter die rug en die donker wolke maak plek vir sonskyn, maar in die skadu’s broei daar onheil."

 Só verklap Wilmer ook dat van die inwoners se hegte vriendskappe met mekaar iets van die verlede is.

 "Nazeem (Irvine van der Merwe) het weer ’n nuwe onderduimse plan, en oudergewoonte gee hy nie om wie in die proses seerkry nie. Daar is ook hernude spanning in die Samsodien-gesin," onthul hy.

'Suidooster', wat in 2022 met 'n Safta-toekenning as beste sepie bekroon is, en ook onlangs by die Silwerskerm-televisietoekennings die beste televisieoomblik-kategorie gewen het, word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uitgesaai.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories