Ikoniese Amy Kleinhans-Curd een van ses 'Real Housewives'

Ikoniese Amy Kleinhans-Curd een van ses 'Real Housewives'

Eers het ses vroue van Pretoria die land aan die gons gehad in 'Die Real Housewives Van Pretoria'. Nou is dit die mooie Kaap wat aan die beurt kom met 'Die Real Housewives Van Die Wynlande'.

Ontmoet die 'Real Housewives van die Wynlande' kykNET
kykNET

Vanaf 20 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) maak Amy Kleinhans-Curd, Mariska Thorpe, Karen Schwendtke, Candice Bester, Michelle van Zyl en Anita Lloyd hul droomhuise se deure, hulle harte en hulle lewens vir kykers oop.

LEES: People pay R10k to spend an hour in quietest room in the world

Skuif nader om te sien hoe hierdie ses unieke, interessante en dinamiese huisvroue ondernemings begin, aantrek vir sukses, stylvol rondrits, skoonheidsroetines gedissiplineerd navolg en dít alles met hul veeleisende persoonlike lewens balanseer. Hulle deel ook die struikelblokke, nederlae en oorwinnings so tussen die prettige en humoristiese oomblikke deur.

'Die Real Housewives van die Wynlande' is in en om Franschhoek, Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm en deur Red Pepper Productions vervaardig.

LEES: Everything you need to know about Thabo Bester's escape

Hier is ’n paar interessante feite oor die ses vroue van 'Die Real Housewives van die Wynlande' om jou behoorlik nuuskierig te maak:

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Amy Kleinhans-Curd is met die Nieu-Seelandse sakeman Leighton Curd getroud. Amy is ’n ma van vier, woon in Franschhoek en is die direkteur van verskeie maatskappye, waaronder die huiswerkhulplyn vir onderwysers, Dial-A-Teacher, wat in 2000 saam met die Nelson Mandela Fonds gestig is. Hul plase in Franschhoek, Swellendam en in die Wieg van die Mensdom is net ’n paar van die dinge wat Amy besonder besig hou. Sy stel binnekort haar eie Cap Classique-vonkelwyn sowel as haar eie velsorgreeks onder die naam Amelia (haar geboortenaam) bekend. Sy is ’n betrokke ma en reël, onder meer, ’n jaarlikse swemfees vir die skool wat haar kinders bywoon.

Mariska Thorpe, wat geruime tyd ’n welvaartbestuurder was, woon saam met haar man, Quintus, en hulle dogter, Ocean, in dieselfde kompleks in Franschhoek as Amy en haar gesin. Mariska hou nie van stilsit nie. Sy en Quintus verhandel aandele, maar sy bestuur ook ’n onderneming wat tweedehandse klere nuwe lewe gee. Mariska en haar man is kranige landlopers, oftewel trail runners, en sy is ’n perfeksionis in alles wat sy aanpak. 

LEES: Peet Viljoen dagvaar 'Carte Blanche'-vervaardiger

Karen Schwendtke woon in Val de Vie tussen die Paarl en Franschhoek. Sy is ’n suksesvolle sakevrou met ’n BCom Rek-graad van UP en ’n MBL van Unisa agter haar naam en ook ’n graad in Visual Basic-programmering van Harvard in Amerika. Ten spyte van lang werksure maak sy ook tyd vir groot liefdadigheidsprojekte. In tye van nasionale nood het sy met die voorsiening van water en veevoer gehelp. Kinders lê haar na aan die hart en sy is betrokke by fondsinsameling vir CHOC (Childhood Cancer Foundation SA). Sy is die trotse ma van twee dogters, Saskia en Arabella.

Candice Bester bly in die Aan de Weber-landgoed in Stellenbosch. Sy is die ma van Emma en is getroud met Werner. Sy was lank as sangeres in die uitvoerende kunste betrokke, maar het die verhoog vir die korporatiewe wêreld verruil. Daar het sy, onder meer, haar merk gemaak as die bemarkingsbestuurder vir Quench, wat deur die TFG-groep gekoop is. Candice droom egter steeds daarvan om in die toekoms weer agter die mikrofoon te staan. Sy speel graag gholf, het ’n groot versameling whiskies en fasiliteer ’n maandelikse vasvrae-aand. Candice en Werner is in die proses om ’n restaurant oop te maak. 

LEES: Princess Diana's niece ties the knot with South African wedding

Michelle van Zyl is ’n mediese dokter wat in trauma gespesialiseer het en daarna ’n suksesvolle algemene mediese praktyk gehad het. Deesdae is sy ’n estetika-dokter wat haar op behandelings soos Botox toespits. Sy en haar man, dr. André Olivier, woon in die Boskloof Eco Estate in Somerset-Wes. Hulle is die ouers van Hanno en Heidi. André het ook twee seuns uit sy vorige huwelik, wat in Namibië woon. Michelle onthaal graag en droom daarvan om haar eie geselsprogram op TV te hê.

Anita Lloyd woon buitekant die Paarl in ’n pragtige vallei. Sy en haar man, Boyce, is skoolliefdes en sy het haar loopbaan as onderwyseres opgegee om hom in sy beroep te ondersteun. Hulle het vir tien jaar dwarsoor die wêreld vir Boyce se werk gewoon voor uiteindelik na Suid-Afrika teruggekeer het. Boyce is sedert 2016 die uitvoerende hoof van KWV. Anita het ’n meestersgraad in linguistiek en het ’n voorliefde vir die studie van tale. Buiten haar man en haar katjies is Anita se grootste prioriteite haar huis, kuns en reis.

Daar is ses vroue wat hulle huise se deure, hulle harte en hulle lewens vir kykers gaan oopmaak. Hulle is van vorige skoonheidskoninginne, entrepreneurs met blink idees, fiksheids modelle met ’n lus vir die lewe, ’n mediese dokter wat van trauma na estetika beweeg het, ’n sangeres wat die mikrofoon vir die korporatiewe lewe verruil het tot ’n vrou wat met die hoof van een van Suid-Afrikaanse se oudste maatskappye getroud is. Nuuskieriges sal egter moet wag tot Vrydag 31 Maart 2023 voor die name van dié glansryke vroue bekend gemaak word.

LEES: Moedelose Centurion-ma soek vrou vir haar seun

'Die Real Housewives Van Die Wynlande' is in en om Franschhoek, Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm en selfs Barrie Kelly van NBC Universal, die Amerikaanse maatskappy aan wie die Housewives-franchise behoort, kan nie uitgepraat raak oor die nuwe reeks nie.

"'Die Real Housewives Van Die Wynlande' is een van die mees asemrowende franchises wat ons het. Die 'stel' van die Kaapse wynlande is ongelooflik en ek is gaande oor hoe dit in die openingtitels gebruik word," sê hy.

LEES: KYK: Vanderbijlpark-meisies word geprys vir hulle TikTok-dans

"Die natuurskoon en pragtige dorpies is as’t ware een van die hoofkarakters van die reeks," sê die reeksregisseur Pascual Wakefield. 

"Die kykers gaan beslis aanklank vind by elke vrou, op die punt van hulle stoele sit wanneer dinge ernstig raak en soms emosioneel geroer word. Daar gaan natuurlik ook baie gelag word; alles in een episode. Hierdie vroue het dalk nie ’n tekort aan geld nie, maar hulle het siel ook."

LEES: Glanspaartjie Lee-Ann Liebenberg en Nicky van der Walt 12-jaar getroud

"Dit was ’n voorreg om hierdie reeks in een van die mees fotogeniese streke in ons land te verfilm," sê Lindi Lucouw van Red Pepper, die produksiesmaatskappy wat vir die reeks verantwoordelik is. "Ons ses kleurvolle vroue het sterk opinies en gaan die land behoorlik aan die gons hê. Kykers kan drama, emosie en pittige humor – soms met die tong stewig in die kies – verwag."

'The Real Housewives'-franchise het in Maart 2006 sy debuut in Amerika met 'The Real Housewives of Orange County' gemaak. Intussen is daar elf verskillende reekse in Amerika vervaardig met 21 internasionale weergawes waaronder reekse in Durban, Johannesburg en Kaapstad. 'Die Real Housewives Van Pretoria', wat in Oktober 2022 op kykNET begin het, was die eerste reeks in Afrikaans.

'Die Real Housewives Van Die Wynlande' begin op 20 April 2023 om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Skakel in vir 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 - 19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: kykNET

Meer by Jacaranda FM


Show's Stories