'OppieStoep' verwelkom ‘n nuwe aanbieder saam met Pietman

'OppieStoep' verwelkom ‘n nuwe aanbieder saam met Pietman

Suid-Afrikaners hou van ’n goeie storie. As dit ’n storie is wat hulle kan laat lag, soveel te beter. Dit is presies wat 'OppieStoep' deur die jare gewys het. Nie net hou ons van lag nie, maar ons is geseën met ’n magdom uitstekende storievertellers.

Lyntjie Jaars & Pietman Geldenhuys
Verskaf/ kykNET

Vir die vyfde seisoen van 'OppieStoep', wat 3 Julie 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop, is daar ’n nuwe persoon in een van die aanbiederstoele wanneer Lyntjie Jaars saam met Pietman Geldenhuys voor die kameras inskuif. Die reeks spog ook met ’n nuwe stel asook storievertellers wat vir die eerste keer deel van die program is.

LEES: Baklei jou familie of vriende met mekaar? Hier is dalk net die oplossing

Lyntjie is trots Suid-Afrikaans en ’n gebore Namakwalander wat die afgelope jare as radio- en TV-aanbieder, seremoniemeester en motiveringspreker gewerk het. Sy het ’n gawe om stories bymekaar te maak en het reeds die land asook die res van die Afrika-kontinent besoek om nie net uit te reik nie, maar ook te motiveer.

“My senuwees was skoon klaar,” sê Lyntjie oor haar nuwe rol as mede-aanbieder. “Dis ’n splinternuwe rol vir my. Hier op kolle moes ek net my voete op die grond hou anders het almal gesien hoe bewe ek. Maar dan moet ek bysê: Pieta was my rots en wanneer ek voel my nerwe wil die oorhand kry, dan kyk ek net vir hom. 

LEES: Veteraanakteurs weer te sien in 'Lui Maar Op, Belinda'

“Dis ’n groot voorreg om in daardie stoel op daardie stoep te sit en stories te luister, uit die maag te lag in Afrikaans en om deel van hierdie hartsprojek te wees. Veral nou terwyl gemoedere swaar is en te weet ons bring verligting op ’n lekker manier sonder om ligsinnig te wees. En dis regtig ’n groot vreugde en seëning om deel van hierdie span te wees. Ek het van die eerste oomblik tuis gevoel.” 

“Ons is baie opgewonde om weer stories met die kykers te kan deel, veral in hierdie tyd waarin ons almal kan doen met humor,” sê Pietman. “Boonop is dit heerlik om saam met die talentvolle Lyntjie te kan werk.”

LEES: Die 'Egoli'-oomblik toe 'Nenna' en 'Elsa' perongeluk daggakoekies eet

Van die gaste wat Pietman en Lyntjie genooi het om saam te kom kuier is onder meer Andries Vermeulen (wat hom deesdae op die bediening toespits), Hannes van Wyk, Gerrie Pretorius, Margit Meyer-Rödenbeck, Poem Mooney, Danneline Ramsden, Wicus van der Merwe en Ds. André Boezak.

Schalk Joubert is soos voorheen weer vir die musiek verantwoordelik en het vir elke program iemand in die musiekbedryf genooi om saam met hom te kom speel. Van hierdie musikante sluit in Robin Auld, Ramon Alexander, Pierre-Henri Wicomb, Albert Frost en Gian Groen.

Kyk die loodsvideo hieronder: 

'OppieStoep' begin op 3 Julie om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae vanaf 16:00-19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: YouTube/ OppiStoep

Show's Stories