'Kwarantyn'-deelnemer gebruik k-woord tydens regstreekse uitsending

'Kwarantyn'-deelnemer gebruik k-woord tydens regstreekse uitsending

'n Deelnemer aan die Afrikaanse realiteitsprogram 'Kwarantyn' het gedurende 'n regstreekse uitsending op Donderdag die k-woord gebruik.

#SpanLeRoux
Verskaf/ kykNET

kykNET se nuwe realiteitsprogram 'Kwarantyn' word oor die kole gehaal nadat deelnemer, Jana le Roux die k-woord tydens 'n speletjie gebruik het.

READ ALSO: Ontmoet #SpanLeRoux en #SpanScheepers van 'Kwarantyn'

Die program word ook vir 24-uur per dag regstreeks op kanaal 149 uitgesaai.

'Kwarantyn' verfilm twee families, die Scheepers en Le Roux's, se doen-en-late vir 50 dae in twee afsonderlike huise. Hulle ding mee vir 'n kontantprys van R 250 000.

Die realiteitsprogram volg 'n soortgelyke formaat as die gewilde Big Brother TV-reeks, met Big Brother SA wenner Ferdinand Rabie as aanbieder. 

Rabie gee daagliks vir die twee families verskeie uitdagings. 

'n Videogreep van Donderdagaand se gebeure het in tussen soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.

"Wow. Dit is ‘n k*****pak," het sy gesê. 

NEEM KENNIS: Die video bevat kru- en rassistiese taal en kan kykers ontstel.

'Totaal onaanvaarbaar'

Direkteur van kykNET kanale Karen Meiring het haar skok uitgespreek.

Meiring sê wat Donderdagaand op Kwarantyn gebeur het is totaal onaanvaarbaar. 

"Dit is juis hoekom hierdie kwessie die kykNET-span se volle aandag gaan verg. Ongelukkig moet ons hierdie uitstel [die bekendstelling van nuwe programme], sodat ons die geleentheid gebruik om dit wat gisteraand gebeur het, aan te spreek en te hanteer."

"Dit is 'n ernstige kwessie vir ons en ons sal die uitkoms hiervan met julle deel. Vandag het ons die verantwoordelikheid om iets aan te spreek en ons voel baie, baie sterk hieroor," het Meiring gesê.

In 'n verklaring wat Vrydagmiddag aan media uitgereik is, het Meiring gesê:

“Donderdagaand in die program Kwarantyn is ‘n rasistiese opmerking gemaak wat indruis teen die grondwet, die gees van die program en aard en wese van kykNET.

Die kanaal vra omverskoning aan almal wat hierdeur beledig is. kykNET bly verbind tot ‘n nie-rassige samelewing, sonder diskriminasie.

kykNET skram nie weg van verantwoordelikheid om historiese en aktuele komplekse onderwerpe te takel en te belig nie. Die situasie vra vir beslissende optrede en word met dringendheid bestuur.” – Karen Meiring Direkteur M-Net: kykNET-kanale. "

Vrydag omstreeks 16:45 het die opsigter, Ferdinand Rabie, aangekondig dat Jana amptelik gediskwalifiseer is van Kwarantyn, en die Le Roux-huis móét verlaat.

Show's Stories