André Schwartz haal weer asem na noue COVID-19 ontkoming

André Schwartz haal weer asem na noue COVID-19 ontkoming

André Schwartz gesels oor sy splinternuwe enkelsnit.

André Schwartz
Verskaf/ André Schwartz

André Schwartz is geen nuweling in die Suid-Afrikaanse musiekmilieu nie. Hy’t al bewondering ingeboesem op vele platforms, plaaslik sowel as internasionaal. 

Hy slaan asems weg met sy besonderse stem en is die enigste Suid-Afrikaanse manlike kunstenaar wat die Andrew Lloyd Webber stempel van goedkeuring dra. 

LEES: "Wees veilig" - Leandie du Randt toets positief vir COVID-19

Te midde van talle gesondheidstruikelblokke, insluitende ‘n uitdagende stryd met COVID-19, verwoord hy in sy nuwe enkelsnit, 'Ek Haal Asem', sy waardering vir hierdie lewegewende asem op die mooiste manier waarop hy kan - deur sang.

Aspekte van onthou, die mens se sterflikheid en vrees vir verlies word in hierdie liriese lofsang in Schwartz se kenmerkende tenoorstem uitgebeeld. Dit is ‘n lied wat die grense van menslike emosie oorskry en jou laat, soos hy sing, met ‘n glimlag omdat jy asemhaal en omdat dit slegs genade is dat jy doen. 

LEES: 'OppieStoep' verwelkom ‘n nuwe aanbieder saam met Pietman

'Ek Haal Asem' neem ‘n persoonlike inslag. In ‘n pandemie tyd waar asem en derhalwe lewe nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie, is daar vir André nie ‘n meer gepaste tyd om die Bron van alle asem te besing nie. Loki Rothman het die produksie en verwerking van hierdie lied behartig asook insette gelewer in die skryfproses. 

'Ek Haal Asem', wat die 9de Julie op digitale platforms vrygestel word, is in meeste opsigte ‘n ode van waardering aan die Skepper van lewe asook ‘n oproep om die onverskrokke uitleef daarvan. André is tans besig met sy nagraadse kwalifikasie in toegepaste sielkunde met die oog op ‘n leefstylafrigter. 

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae vanaf 16:00-19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: Verskaf

Show's Stories