'Getroud Met Rugby' kom tot 'n einde

'Getroud Met Rugby' kom tot 'n einde

Die sportsepie 'Getroud Met Rugby' sal ná ses seisoene in September 2022 klaarmaak.

Getroud Met Rugby
Verskaf

Die sportsepie 'Getroud Met Rugby' sal ná ses seisoene in September 2022 klaarmaak op kykNET (DStv-kanaal 144). Dié moeilike besluit is geneem ná deeglike oorweging en navorsing. Die aankondiging volg ná gesprekke met die vervaardigers waarin ooreengekom is dat kykNET die huidige produksiekontrak met ses maande verleng om die span en produksie die kans te bied om toekomsplanne te maak. 

LEES: Rian van Heerden gesels met '7de Laan' se gewilde Meme Ditshego

“Ons gaan saam met kykers in September 2022 met ’n swaar hart van die Stryders en hul wel en wee afskeid neem. Die veranderende televisielandskap noop ons soms om veranderinge te maak, maar dit bring ook nuwe geleenthede en nuwe stories. 

kykNET bedank Deon Opperman, Overberg Produksies en elke akteur en lid van die produksiespan wat sedert 2009 ’n bydrae gelewer het tot die merkwaardige sukses van hierdie eg Suid-Afrikaanse program,” sê Waldimar Pelser, direkteur van kykNET-kanale.

LEES: EKSKLUSIEF: '7de Laan' se 'Evelina' deel gewilde niertjie-resep

'Getroud Met Rugby' is aanvanklik in 2009 as ’n dramareeks van 13 episodes op kykNET uitgesaai. Dié reeks, wat afspeel in die fiktiewe wêreld van die Stryders-rugbyspan, is geskep deur Deon Opperman en Hanli Rolfes. Ná vyf dramareekse is 'Getroud Met Rugby' in 2016 in ’n daaglikse sepie omskep. Oor die afgelope 14 jaar het dié reeks en sy karakters diep in kykers se harte gekruip met sterk rolverdelings en storielyne. Die plaaslike kroeg, Potties, was ook al die bymekaarkomplek vir baie spesiale optredes deur van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse kunstenaars. 

LEES: "Ek glo steeds in liefde"- Die geliefde Glam Guru bevestig egskeiding na 30-jaar

“Dit is kykNET se wens om die goeie werksverhouding met die vervaardigers, talent en produksiespan van 'Getroud Met Rugby' ná afsluiting van hierdie hoofstuk voort te sit - ’n hoofstuk waarop ons glo die hele 'Getroud Met Rugby'-span geweldig trots kan wees, ” sê Pelser. 

Deon Opperman die skepper en vervaardiger van die reeks sluit af:  "'Getroud Met Rugby' was die afgelope veertien jaar, aanvanklik met die vyf GMR dramareekse en daarna met GMR-Die Sepie, 'n enorme deel van my lewe as skrywer en vervaardiger. Ek is innig dankbaar aan kykNET dat hulle dit alles moontlik gemaak het."

LEES: Waldimar Pelser: Ontmoet kykNET se nuwe hoof

Die laaste opnames sal in Julie 2022 plaasvind, maar die reeks sal steeds tot 30 September 2022 vir kykers op kykNET (DStv-kanaal 144) beskikbaar wees. 

kykNET kan in hierdie stadium nie bevestig watter inhoud hierdie tydgleuf sal vul nie.

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16:00-19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Meer Op Jacaranda FM


Foto: Verskaf

Show's Stories