Nataniël herverbeeld en inspireer wéér in 'Terwyl Ek Wag'

Nataniël herverbeeld en inspireer wéér in 'Terwyl Ek Wag'

"'Terwyl Ek Wag' mag miskien klink asof dit bloot net nog 'n kosprogram is, maar dit is veel meer en uiters gepas vir hierdie vreemde tye. Geskiedenis herhaal homself gereeld en op vele maniere,” sê Nataniël oor inspirasie vir hierdie hele projek.

Nataniël
Verskaf

Kos, kultuur, geskiedenis, vakmanskap en vermaak word verruklik verpak in Nataniël se nuutste leefstylprogram, 'Terwyl Ek Wag', wat Maandag  4 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin uitsaai.

LEES: KYK: Rian van Heerden soek SA se volgende miljoenêr

Wat doen ons terwyl ons wag en wat gebeur ná die afwagting?

In 1721 wag Nataniël se Franse-voorvader, Jean le Roux, 16-jaar om ’n stuk grond tussen Kaapstad en Stellenbosch te koop. Dít nadat le Roux en sy familie moes vlug na Suid-Afrika van Blois in Frankryk om ’n nuwe lewe te maak op die plaas. Deel van die erfenis van die Franse Hugenote het kos, boerdery, wynmaak en kookkuns vir ewig in Suid-Afrika beïnvloed. Dís die vertrekpunt van gasheer, kunstenaar en kok, Nataniël, se nuutste reeks, 'Terwyl Ek Wag'. En ’n oorrompelende en betowerende avontuur wag op kykers.

LEES: FOTO'S: Boer Damian vind sy "normale ou" na 'Boer Soek 'n Vrou'

“Terwyl Ek Wag' mag miskien klink asof dit bloot net nog 'n kosprogram is, maar dit is veel meer en uiters gepas vir hierdie vreemde tye. Geskiedenis herhaal homself gereeld en op vele maniere,” sê Nataniël oor inspirasie vir hierdie hele projek.

Elke episode het ’n tema en daar word op iets gewag en voorberei.

Die wag, die bou van ’n nuwe tuiste, kos, en vaardigheid is van die temas waarna kykers kan uitsien in 'Terwyl Ek Wag'. Ons leer deur die hele reeks by kenners, kunstenaars, en vakmanne. Nataniël herskep ‘n wêreld maar skep dan ook ’n nuwe een.

LEES: 'Wat Is Die Waarheid' - Nuwe reeks ondersoek samesweringsteorieë

'Terwyl Ek Wag' was hoofsaaklik in die oorspronklike, meer as 300 jaar-oue plaashuis, verfilm.

Die kombuis, eetkamer, stoep, ateljee, tuin, rivier, woud, wingerd en plaaspad word met die hulp van kunstenaars, meubelmakers en ontwerpers herskep en stelle word geklee soos net Nataniël kan. Die wêreld wat geskep word, beweeg en groei elke keer. Elke oomblik word skilderagtig ingeklee.

LEES: Schwarp skryf sonder skaamte 'Skeef'-boek

“Enige avontuur saam met Nataniël beloof om propvol vindingryke idees, nuttige informasie, visuele verruklikheid en hope vermaak te wees en 'Terwyl Ek Wag' is geen uitsondering nie. Nataniël verweef die praktiese alledaagse met betowerende inspirasie,” sê Berdene Burger, vervaardiger van die reeks.

Nataniël bring nie net vertroosting vir kykers met hierdie nuwe reeks nie maar ook verhale, historiese geregte en tonne verrassings. Boonop sing hy ook vir die reeks!

LEES: KYK: 'Kommin' Brakpan-onnies maak naam op TikTok

Kostuums vir die reeks is geïnspireer deur die Franse Hugenote-drag, kultuur en historiese ontwerpe vanuit die 17de en vroeë 18de eeu. Hierdie 13-episode reeks vermeng die oud en die nuut op ’n eiesoortige manier.

Terwyl Ek Wag begin Maandag 4 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai. 

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16: 00-19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: Verskaf

Show's Stories